
=====================================================================
Vaardig met tong en hand (AV 6:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Vaardig met tong en hand

  Hoewel daar in sekere opsigte bekommernis oor Afrikaans is, is daar baie bemoedigende dinge, s T.T. Cloete. Die taal vind wonderlik baat 
waar vakmanskap en taalbekwaamheid 'n knooppunt vorm. DAAR is Afrikaanssprekendes wat sonder bewuste besinning, op 'n amper natuurlike of 
spontane, lewensvaardige manier hulle taal gebruik. Dit is Afrikaanssprekendes wat 'n hele afstand verwyder is van die mense wat bewustelik 
iets wil doen vir die bevordering of behoud van Afrikaans, en ewe ver verwyder is hulle van die mense wat minder of meer gereeld allerlei 
menings uitspreek oor die aard of gehalte of toekoms van Afrikaans. Ons sou ook kon praat van 'n vanselfsprekende taaltoerusting en -
gebruik van hierdie sprekers, wat blykbaar nie besinning oor Afrikaans nodig het nie, maar wat nogtans die taal in ho mate dien met hul 
parate praat, 'n onwillekeurige taalgebruik wat amper soos mens se asemhaling is. Dit is die taal van mense wat nie taalkundiges of 
literatuurskrywers is nie, maar wat Afrikaans help maak wat hy is en wat bloot deur hulle gebruik daarvan dalk meer daarvoor doen as baie 
geleerde of emosionele uitsprake daaroor.

In geskrewe vorm kry ek my indrukke van hierdie taalbehendigheid by joernaliste en in mondelinge gedaante hoor mens dit in sekere bydraes 
vir die radio. Maar die taal van party van die omroepers self ... Ek het nou die dag gehoor dat een van hulle in alle erns vir 'n inbeller 
s dat hy iets in die debat uitgemis het -- dit afgesien van frases soos: soort van, behalwe vir, of: die Engelse is gerat vir die komende 
sonsverduistering, afgesien ook daarvan dat name verkeerd uitgespreek word: Holtz vir die Engelse komponis Holst, Bottjerienie in plaas van 
Boccherini. Sommiges probeer jong mense vermaak deur 'n skoolkindmengsel van Engels en Afrikaans te praat.

Die taal van die koerante en ontspanningstydskrifte wat ek lees, is goed, bowendien het party van hulle gereelde taalrubrieke en artikels 
oor Afrikaans.

Ek kan egter kwalik my voorbeelde gaan soek by die politici wat praat van direkteur-generaals, van 'n minister wat haar job goed doen, van 
iemand se lisensie om dit en dat te mag s. In die tyd van onderhandeling waar die de van Kodesa die politici se eie afkorting vir 
"demokrasie" was, het hulle aanhoudend van "Kodessa" gepraat, en ek vermoed dinge soos: 'n krisis ontlont,rolspelers en dergelike kom van 
ons politieke "dmokrate" af.

Ek wil nie mense se name misbruik nie, maar ek wil tog met konkrete voorbeelde werk. Stoffel S. vertel jare lank al Saterdagoggende oor die 
RSG in sy rubriek Doen Dit Self van sy handwerk. Ek noem hom in die besonder omdat hy 'n heel besondere woordeskat nodig het om sy 
vakkundigheid te verduidelik, wat dus ongewone eise aan hom stel, maar hy is in sy taalhantering net so behendig as in sy kennis van sy 
vak. Na aanleiding van hom kan mens beweer dat daar by party sprekers (of skrywers) 'n duidelike wederkerige verwantskap is tussen 
vakmanskap en taalbekwaamheid, 'n bymekaarkom van hand en tong. In die geval van Stoffel gaan dit nie om die verhewe digterlike perd 
Pegasus nie maar om 'n ander aardse perd, in ligter trant, dit gaan om 'n stokperdjie.

'n Voorbeeld uit die sportwreld: Onlangs het ek een laataand oor die radio geluister na Gert van Zyl, ek dink hy is van Louis Trichardt, 
wat met Hennie Maas oor hengel gepraat het. Hy is duidelik 'n knap hengelaar, en sy taal is ewe knap. Mens kon jou aan hom verluister. Weer 
daardie korrelasie. Knap tong van 'n knaphandige. Terwyl ek dit oor Hennie Maas se programme het. Hy het ook een oor lokomotiewe, en daar 
kan mens hoor hoe stokers op die treine goeie Afrikaans praat.

As ek aan Gert van Zyl uit die sportwreld dink, dan vergelyk ek dit onwillekeurig met die taal van die rugbymanne, hulle kommentators, 
skeidsregters en spelers -- omtrent die hele klomp. By die rugby, waarvan ek intussen hou as spel, skakel ek soms liefs die klank af van 
die pak voorspelers en die tekkels, van die balle wat wyd gespeel word of lug gegee word (sit net 'n v by: "vlug gee", en dit is beter), ek 
skakel af van die spelers wat die balle sekuur ... "secure" -- ja reg, jy moet eers na Engels toe terugvertaal voor jy verstaan wat bedoel 
word -- jy moet as 't ware ook die taal "agtertoe speel". Party van die rugbymanne se Afrikaans klink na vertaalde Engels. Hulle moet nog 
net die Afrikaanse segmente tussen die Anglisismes en Engelse woorde in Engels vertaal.

Ek het sommer nou die dag gehoor (vandat die Super Twaalf-reeks aan die gang is): "Die span wat op vorm is, is die beter van die twee 
spanne." 'n Ander kommentator het ges 'n plaasvervanger vir een van ons manne in Australi wat beseer is, is ingevlieg ... nou nie soos 'n 
ma 'n stout kind invlieg nie. Jy hoor 'n swak span het 'n punt om te maak of te bewys, hulle penetreer nie die verdediging nie, hul 
balretensie is swak, die bulle moet hulle probleme aanspreek (weer nie soos 'n ma 'n stout kind aanspreek nie) en uitstryk, hulle moet 
hulle geim opknap anders gaan hulle die pyp nie rook nie, hulle moet skwr skrum. Een van die heelagters het 'n groot impak op die spel, sy 
skoppe werk en hy bring sy kant. Die losskakel hardloop die bal. Ek is ook nie seker van daardie oppikke van die balle nie. Die Afrikaanse 
name vir ons spanne is lankal nie meer daar nie, en ... die rugbymanne en hulle taal het op hlle manier k 'n (ironiese) wederkerige 
betrekking van tong en hand: 'n los gemaal rommelig in albei gevalle.

Met heimwee dink mens terug aan daardie uitsaaier wat die beeldspraak gehad het om te kon vertel hoe 'n voorspeler soos 'n Trojaan speel, 
hy was self 'n Trojaan: Dana Niehaus. Toe hy uitgesaai het, is die brood nog in die oond gesit en die skrum het nog gesak. Vandag engeitsh 
die pak, al is daar skynbaar geen Engelse spreker in die span nie. Ons het baie taal van voorheen verloor.

Mens wil die rugbymanne nie in hulle kwaad sterk nie, maar hulle sou hulle kon beroep op van ons (vermaaklikheids)kunstenaars wat hulle 
taal net so brou. Wat hulle Afrikaans betref, speel die rugbymanne en verskeie vermaaklikheidskunstenaars in dieselfde liga. Of moet mens 
s hulle is kop in een skrumpet?

Baie grappe, geestigheid, gevatheid, dit wat die Engelse "wit" en 'n "pun" noem, berus op taalspel, maar so baie van ons vermakers is nie 
werklik woordspelers (net so 'n goeie woord as "punster") en woordmakers nie, maar omdat dit in ons land 'n snaaksigheid geword het om 
kreools te gebruik, kies hulle by gebrek aan oorspronklikheid en taalskepping daardie maklike uitweg. Om kreatief en woordspelend te dink 
en te praat, vra vernuf en soms ook inspanning, en ons het pragtige woorde selfs vir die gebrek daaraan of die besit daarvan. Laf of 
soutloos vir "witless", en kwinkslag of sgoed of spitsvondigheid vir "witticism".

Die vermaaklikheidskunstenaar het nie verskonings nie, maar die rugbymanne sal dalk s: ag, los ons uit, ons is sportmanne, nie taalmanne 
nie, ons kan nie paniek of wurry nie, ons bekommer nie. Maar die krieketkommentators is immers ook sportmanne, en hulle taal is so presies 
soos hulle spel. Met die krieket is ons weer by daardie wederkerige verhouding. Handvaardig is gelyk aan taalvaardig. Die mense wat 
krieketkommentaar uitsaai, Andr Coetzee byvoorbeeld, gebruik 'n elegante, vindingryke en vaardige kriekettaal wat by die spel pas. Die 
Afrikaanssprekendes van die krieketwreld moes immers hulle koppe jare gelede krap om mooi en raak terme te bedink.

Iets uit die terrein van die wetenskappe: daar is 'n professor van die Randse Afrikaanse Universiteit, Tertius H., wat gereeld oor 
ekologiese sake oor die RSG praat en wie se taal presies pas by sy kennis, weer so 'n dubbele behendigheid. Gereeld oor die RSG hoor mens 
ook ekonome (Lucas de L., Dawie K. en ander) wat oor ekonomiese sake praat in 'n ekonomies "solvente" Afrikaans, mense wat op hulle taal 
net so gesteld is as op hulle munte. Weer is dit vakkundiges wat meer of ander woorde nodig het as die gewone gespreks- of skryftaal, vir 
daardie wedersydse betrekking tussen taal en kennis.

Hierdie voorbeelde maak mens daarvan bewus dat ons taal nie net in die literatuur en ander kunste gebrei en geknie word nie, maar baie 
beslis ook in veral die natuurwetenskappe, die regs- en ekonomiese wetenskappe, onder meer, waar die beoefenaars daarvan baie presies moet 
wees in hulle taal. Die kwantumfisika kan alleen in kwantumtaal praat en skryf. Ek luister baie onlangs een aand na Hennie Maas se 
gastehuisprogram, in sy gesprek met dr. Gawie N. van die AEK, oor sy werk met die atoom, en ek verstom my vir die presiese, ryk taal van 
die spreker. Ek het nie alles verstaan wat hy van atome ges het nie, maar ek het alles begryp -- soos Gorter van die posie van die kore 
in die Griekse tragedies ges het: Hy het die potiese taal daarvan begryp sonder dat hy die betekenis van die woorde verstaan het. So 
iemand uit die natuurwetenskappe en toegepaste natuurwetenskappe kan sy werk alleen doen as hy die taal daarvoor het. Die Groot Gedagte van 
Gideon Joubert is alleen groot gedagte omdat hy die taal het om dit groot te maak, omdat hy die vermo het om die gedagtes of insigte, die 
feite en verskynsels raak te vat, te konkretiseer, in die gestalte wat hy buite sy kop daaraan in taal gee. Die taal is die demonstrasie of 
stawing van die brein se besit.

Jare gelede, toe Die Huisgenoot nog sulke artikels geplaas het, het ek daarin 'n artikel geskryf oor die swak Afrikaans van party studente. 
Die destydse rektor van my universiteit het op 'n keer opdrag gegee dat, sonder inagneming van vak of studiejaar, alle studente op 'n 
bepaalde dag by die dosente by wie hulle klas loop, 'n kort opstel moet skryf oor een of ander onderwerp. 'n Kollega en ek moes daarna uit 
die duisende opstelle 'n aantal verteenwoordigende eksemplare neem en die taal bekyk. Ons bevinding was verrassend: Van die beste en mees 
presiese Afrikaans is geskryf deur studente in die natuur- en ekonomiese wetenskappe. Ek glo dit was nie toevallig nie. Die wiskundige, die 
chemikus, die ekonoom of fisikus, die regsgeleerde kan kwalik bekostig om te mors met die taal. Dit sal daarom jammer wees as ons taal 
"vermoor" word in s maar die natuur- en ekonomiese wetenskappe, as Engels in ons opvoedkundige inrigtings op ons afgedwing word of omdat 
ons verlei word om in Engels te dink.

Die literatuur en die praters alleen sal die taal nie in stand hou en brei en uitbrei nie. Die taal word in die wetenskappe en industrie, 
in talle vaktale net so goed en dalk nog beter gebrei en gemaak as in die literatuur.

Dit is 'n klein mite dat skrywers sulke danige taalmakers of kwansuis sulke golaars met die taal is. Skrywers soos Streuvels of Gezelle, 
James Joyce of e.e. cummings is uitsonderings. Daar word baie meer nuwe woorde gemaak op ander, vakkundige terreine, soos byvoorbeeld die 
tegnologie of elektronika, die fisika of astrofisika, of die industrie. Noem maar op. Skrywers maak nie soseer nuwe taal nie as wat hulle 
die bestaande taal op nuwe maniere gebruik.

Daar is 'n groot gaping tussen daardie "inding", napraat, soos van die rugbymanne en verskeie vermaaklikheidskunstenaars, en die 
vindingrykheid van byvoorbeeld die vakkundige of krieketmense se taal. In die kunste, waar dit gaan om vinding, is sekere soorte namaak 
selfs strafbaar.

Daar is baie soorte kundigheid wat kop in een mus met taal-kundigheid is. Prof. Theunis Cloete is digter, letterkundige en emeritus-
hoogleraar van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO.

Skets van Cloete



Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av6312.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1999 /// Streef na onafhanklikheid van politieke gees. (AV 6:3) 
/// Troukoors (AV 6:3) /// Afrikaans bring die Woord aan Kung-praters (AV 6:3) /// Brief uit Murraysburg (AV 6:3) /// Ode aan my 
leermeesteres (AV 6:3) /// Suksesse met onderwysprojekte (AV 6:3) /// Afrikaansdag treffer by Vista (AV 6:3) /// Nuwe woorde uit anderhalwe 
dekade (AV 6:3) /// Rekenaar help Afrikaansleerders (AV 6:3) /// 'Wat ek wil s, kan in Afrikaans ges word' (AV 6:3) /// 'n Omstrede 
veteraan bieg (AV 6:3) /// Vaardig met tong en hand (AV 6:3) /// Dit kook en prut in die taalpot (AV 6:3) /// Johan Combrink was 'n 
DOENmens (AV 6:3) /// Gevangene (AV 6:3) /// George doen ding vir Afrikaanse reklame (AV 6:3) /// Leeslus het losgekom -- Internet gee 
koopnuus (AV 6:3) /// Gee swaarkry van Oorlog nuwe sin (AV 6:3) /// 'O moedertaal ... jou het ek lief bo alles ...' (AV 6:3) /// Waardeer 
mekaar se verdienstes (AV 6:3) /// Kalklig-dief (AV 6:3) /// IiLwimi wil taalregte en veeltaligheid uitbou (AV 6:3) /// Wenners munt uit 
met raaks-Afrikaans (AV 6:3) /// Baksel in die winter (AV 6:3) ///

